WOESTYN

WOESTYN

Na ons onlangse vakansie in Namibië, gaan my gedagtes nog gereeld terug daarheen.
Die pragtige natuurskoon, so anders as waaraan ek gewoond is.
Ek bly by die see. Elke oggend, oppad werk toe, ry ek vir 5km lank, amper teenaan die see. Dit bly vir my ‘n groot voorreg en bederf om elke dag my oë oor die oseaan te laat gaan. Die grootheid van God se handewerk sal ons nooit ten volle kan begryp of sien nie. Ons kan maar net in verwondering uitroep:
“Hoe groot is U!!”

Daar in Namibië het ek Sy grootheid beleef met die aanskoue van die Namib woestyn. Oppad daarheen, het ek die groot rooi-bruin berge voor my en ook baie na aan my, gesien. Ek het aanvanklik gedink dat dit darem baie mooi rooi berge is.
Ek hoor my man langs my sê; “Is hierdie sandduine van die woestyn nie asemrowend nie?”
En ek besef; dis nie berge nie, ons is in die woestyn, dis sand!! My asem was weggeslaan.
Hoe verder ons ry, wonder ek toe later of ons voertuig, alhoewel dit 4-wiel-aangedrewe is, dalk gaan vassit in die sand? Ek hoop tog nie so nie….

Dadelik herinner die Here my aan ‘n Skrifgedeelte: Jesaja 43:19&20:
Ek gaan iets nuuts doen. Dit het alreeds begin gebeur! Sien julle dit nie? Ek maak ‘n pad deur die woestyn vir my volk om huis toe te kom!”

Die warmte van die son van die woestyn, kon nie opweeg teenoor die warmte wat hierdie Skrifgedeelte in my hart kom doen het nie!
Ek het begin deur uit te sien na die nuwe dinge wat die Here vir ons wil doen. Hy herinner my toe dat dit alreeds begin het! Dit het begin deurdat Hy my hart oopgestel het vir nuwe dinge. Ek het nuwe dinge begin dink.
Hy vra toe aan my: “Sien jy dit nie?”
Ja Here, ek sien dit. Ek sien nuwe mense rondom my . Wanneer daar mense oor my pad kom en ek sien dat hulle nog nie vir U ontmoet het nie, dan wys U aan my dat U vir hulle net so lief is soos vir my! Dan moet ek juis vir hulle wys hoe U lyk! Wanneer hulle U dan deur my beleef en sien, dan sien ek NUWE MENSE!

Ons gaan ook nie vassit in die los sand nie: “Ek maak ‘n pad deur die woestyn vir my volk om huis toe te kom!”
Wat ‘n wonderlike belofte! Wanneer ons deur storms en woestyntye in ons lewens gaan, kan ons verseker weet dat die Here ook binne in ons woestyn vir ons ‘n nuwe pad maak, ons sal nie vasval in die los sand nie! En hoe fantasties dat hierdie nuwe pad in die woestyn altyd na Sy huis toe lei!

Kyk net wat staan in Jesaja 35:8:
Deur die woestyn sal nou ‘n grootpad loop. Die pad sal genoem word: die Heilige Weg.
Mense wie se harte boos is, sal nie daarop reis nie.
Dit sal net oop wees vir mense wat op God se pad loop.

Ek kies vandag en elke dag daarna, om God se pad te loop. Op God se pad kan ek nie vasval nie. In my woestyn, maak Hy ‘n grootpad, ‘n Heilige Weg.

Hierdie pad is oop en beskikbaar vir elke mens wat kies om op hierdie Heilige Weg te loop.
Maar ons moet dit kies! God dwing ons nie om op hierdie pad te loop nie, dit bly ons keuse. Hoekom sou ek nie hierdie grootpad kies nie? Hoekom sou ek die los-sand-vasval-pad kies?

Die Israeliete het God egter in die woestyn uitgedaag. Hulle was moeg vir manna en wou vleis eet. In Psalm 78:19 vra hulle: “Kan God kos gee in die woestyn?”

In Psalm 23 wys die Here vir ons dat Hy selfs in die woestyn vir ons ‘n tafel kan dek:

“U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ‘n eregas deur my kop te salf met olie en by beker oorvol te maak.”

Dankie Here, ons sit graag aan by hierdie gedekte tafel in die middel van ons woestyn, ons hou ons bekers na U uit, en U maak dit tot oorlopens toe vol!

Scroll to top