TYD…..WAT IS DIT?

TYD……WAT IS DIT?

2 Petrus 3:8: Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

Twee ure per dag.
Dit is min of meer die tyd wat ek elke dag na my selfoonskerm staar. (Dit kan selfs meer wees). Dit beteken dat ek een maand per jaar verloor het. Een maand waar ek op my selfoonskerm gekyk het wat ander mense doen en wat in die wêreld aangaan. Een maand waar ek gestaar het na my selfoonskerm en waaruit eintlik niks goed gekom het nie.
Een maand waar ek armer geword het in my siel en gedagtes.

Wanneer laas het ek diep asem gehaal en doodeenvoudig net gestaar het na die see of die berge of die landskap. Wanneer laas het ek skoenlappers of voëltjies in die tuin dopgehou? Wanneer laas het ek die stilte gehoor?

Wanneer laas het jy een ete op ‘n dag minder geëet en daardie uur wat jy vas, gebruik om Bybel te lees? Het jy dit al ooit gedoen?
Probeer dit gerus! Dit hou veelvuldige voordele vir jou liggaam en siel in!

Dit is ‘n verskriklike groot voorreg om deel van die wedloop van die lewe te wees! Dit slaan my asem weg dat selfs ek gekies is om deel te neem aan hierdie wedloop! Hoe opwindend en uitdagend!
Die feit dat hierdie wedloop binne ‘n raamwerk van tyd afspeel, maak dat ons soms voel ons verloor beheer. Dit wedloop raak te vinning, ons kan nie byhou nie. Mens wonder soms wanneer het hierdie reis dan ‘n resies geword.
Elke dag moet jy jou lewenspad draf, terwyl jy eintlik net rustig wou stap en alles rondom jou geniet.

Ps. 90:12: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid kan bekom.

Wysheid om oor prioriteit te heers. Wysheid om ons lewens en tyd effektief te begroot, te beplan, en met dissipline deur te voer, terwyl ons die ure van elke dag geniet as ‘n lewensgesenk en gawe van Bo!

Efesiers 5:16: Benut elke geskikte geleentheid, want ons lewe in slegte tye.

Hierdie Skrifgedeelte het my laat dink aan ‘n entrepreneur. ‘n Entrepreneur is heeltyd besig om geleenthede te soek om geld te maak. Net so moet ‘n Christen, die heeltyd geleenthede soek om die wil van die Here te doen.
Net soos ‘n entrepreneur noukeurig somme doen voor ‘n groot besigheid onderneming, moet ‘n Christen wysheid en gebed toepas wanneer hulle besluit hoe om hulle tyd te bestee.
Uiteindelik kom dit daarop neer om te weet wat die wil van God is.
Is dit nou die tyd om met jou broer of suster te praat oor hul verkeerde lewe, of is dit beter om te wag vir ‘n meer geleë tyd?

Pred. 11: 6: Saai jou saad vroegoggend, maar moenie ophou as dit aand word nie. Jy weet nie watter een suksesvol sal wees nie, en of al twee saam ‘n goeie oes sal lewer nie.
Dit beteken dat ons nooit moet dink ons het nou genoeg gedoen nie. Solank as wat ons tyd het, het ons geleentheid om goed te doen.
.

Ek lees dat die gemiddelde mens ongeveer 3600 weke leef. Hoeveel weke het jy nog om ‘n verskil te maak?
Hoe vinnig vlieg ‘n week verby?…….
So vinnig soos blits, soos ‘n weerligstraal, dan is my 3600 weke verby.
Het ek ‘n verskil gemaak? Was ek ‘n aanwins in U Koninkryk, Here?
Het ek elke dag, elke geleentheid gegryp?
Het ek elke dag ‘n verskil gemaak?

Prediker 4: 14,15: Ek weet alles wat God doen, is vir ewig. Niemand kan daar iets byvoeg of daar iets van wegneem nie. God doen dit sodat die mens Hom sal eer.
Wat is, was reeds.
Wat nog sal wees, was ook alreeds,
God soek dit op wat alreeds verby is.

• Het jy ‘n begeerte om God te ken?
TYD in Sy Woord is jou antwoord.

• Het jy ‘n begeerte om jouself te ken?
TYD in Sy Woord sal jou leer wie jy was voor jy Jesus as Verlosser leer ken het. Dan leer dit jou ook wie jy is noudat jy Jesus ken!

• Wil jy graag weet wat die Waarheid is?
TYD in Sy Woord sal jou hierdie antwoord gee. In Johannes 8:31-32 sê Jesus: “As julle aan My woorde getrou bly, is julle waarlik my dssipels; en jule sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

• Wil jy weet hoe om anders te dink en jou gedagtes te vernuwe?
TYD in Sy Woord sal jou gedagtes verander. In Johannes 17:15-17 bid Jesus: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid”.
Ons lewens gaan dus anders lyk as die res van die mense s’n wanneer ons dink soos die Woord sê ons moet dink.

• Wil jy weet hoe word ‘n mens gelyk aan die Beeld van Christus?
TYD in Sy Woord sal jou leer hoe om te verander. In 2 Korinthiers 3:18 lees ons: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
Die Heilige Gees help ons om Jesus in die Woord te sien. Jesus is vanaf Genesis tot Openbaring in die Woord te sien. En die Gees help ons om dit te sien en maak Hom aan ons bekend. Wanneer ons Jesus in die bladsye van die Bybel sien, het ons die belofte dat die Gees ons sal verander om aan Sy beeld gelyk te word.

Niks van hierdie dinge kan egter gebeur as ons nie TYD in sy Woord spandeer nie!

Maleagi 4: 2: Maar die Son van Geregtigheid, met genesing in sy vlerke, sal opkom vir julle wat eerbied en respek vir My het. Julle sal uitgaan en vrolik rondspring soos kalwers wat uit die kraal kom.

Ons wil uitgaan en vrolik rondspring, soos kalwers wat uit die kraal kom, Here! Dankie vir U Son van Geregtigheid met genesing in sy vlerke.
Help ons om ons 3600 weke hier op aarde, in U Teenwoordigheid deur te bring en elke sekonde te gebruik om ‘n verskil te maak.
Amen

Scroll to top