HEILIGE GEES

HEILIGE GEES



Lukas 3:21-22
Eendag toe die skares gedoop word, is Jesus self ook gedoop. Terwyl Hy bid, het die hemel oopggaan, en die Heilige Gees het fisies soos ‘n duif op Hom neergedaal. En ‘n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ‘n kind so na my hart.”

Die duif – draer van die vredesboodskap – met sy reinheid, sagmoedigheid en opregtheid, word deur God gekies as sigbare simbool van die Heilige Gees, wat op Jesus neergedaal het.

In Johannes 1:32, lees ons dat die Heilige Gees op Jesus gebly het.

Wanneer iemand of iets by ‘n persoon bly, roep dit ‘n prentjie van inwoning, permanensie en ondersteuning op.

Die Heilige Gees is gestuur om by Jesus te bly dwarsdeur Sy tyd as mens op aarde. Die Heilige Gees het Hom bemoedig wanneer mense Hom verloën en gespot het. Die Heilige Gees het Jesus ondersteun tot Hy sy laaste asem as broos mens aan die kruis uitgeblaas het.

Na Sy opstanding het Jesus sy dissipels belowe dat Hy hulle nie alleen sou agterlaat nie, maar die Trooster (Heilige Gees) sal stuur om by hulle te bly. Met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag is die belofte bewaarheid. Tonge van vuur het op die wat tot geloof gekom het, se koppe gaan sit. Hulle is met die krag van die Heilige Gees vervul.

In Matteus 10:16 sê Jesus vir sy dissipels: Wees opreg, soos duiwe.
In Genesis 6-8 lees ons die verhaal van Noag se ark. Toe die aarde vir ‘n tydlank met water bedek was, wou Noag bepaal of daar iewers droë grond was. Hy het die duif uit die ark gestuur, die duif het teruggekeer met ‘n olyftak in sy bek. Sedert daardie tyd was die olyftak ‘n simbool van vrede.
Dit is simbolies dat die storie van Noag se duif ons vertel dat God vrede verklaar het met die mensdom na die vloed, wat die aarde gereining het van goddeloosheid. Die duif het Sy Gees verteenwoordig deur die goeie nuus van versoening tussen God en die mensdom te bring.
Dit was natuurlik net ‘n tydelike versoening, aangesien voortdurende, geestelike versoening met God slegs deur Jesus Christus kom.
Maar dit is kenmerkend dat die Heilige Gees die beeld was van ‘n duif by Jesus se doping wat weereens die simboliek van vrede met God is.

Hierdie uitstuur van die duif tydens Noag se tyd, asook die die duif met die uitstorting van die Heilige Gees, het my laat dink aan ons gebedslewe en om God te hoor praat met ons.
Ons moet met vrede (duif) in ons hart, en met die sekerheid dat God ons liefhet en met ons wil praat, ons versoeke uitstuur (soos die duif uitgestuur was) en dan moet ons wag (soos Noag gewag het vir die duif om terug te kom).
Ons moet o leer om te wag dat God die antwoord vir ons sal stuur!

Ons moet egter ook leer om God se antwoord te verstaan. Die duif het wel teruggekom met ‘n olyftakkie, maar dit was nog nie droog genoeg op aarde, sodat Noag uit die ark kon stap nie. Die takkie was net ‘n teken, die takkie is soos ‘n belofte wat ons van God af kry dat die seisoen waarop ons wag, oppad is.
Ons moet ook leer om te luister en te onderksei wanneer dit die regte siesoen vir ons is

Wag vir jou seisoen, al is die belofte daar, wag vir die regte tyd en moenie moeg word nie.
Jes 40:31 sê: Die wat op die Here wag, kry nuwe krag, hulle vaar op met vleuels soos die van arende, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Die duif simboliseer geestelike hoop, nuwe lewe, vrede en die salwing van die Heilige Gees.
God stuur Sy Gees uit, net soos Hy die duif uitgestuur het, want Hy wil hê ons moet ‘n rusplek kry by Hom. Hy wil sy rusplek in ons harte, ons hele lewe, ons tonge, ons gedagtes en ons siele, hê.

Ontvang Hom vandag, maak jouself oop, laat toe dat sy Heilige Gees, soos ‘n duif in jou lewe invlieg en ervaar die wonderlike vrede en vreugde en hoop wat Hy vir jou belowe en wat jou lewe sal verander.

1 Kor. 12:13: Ons is almal van die een Gees deurdrenk.

Efesiers 3:19: Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef.
Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word.
Scroll to top