WAAR IS DIE PLEK?

Waar is ‘n beter plek?
Waar is die beste plek?
Waar is die plek waar ek my kop kan neerlê?
Waar is rus?

Is dit in ‘n ver weg plek
daar waar ek niemand ken nie?
Is dit dalk nader,
om die draai?
Of is dit in die draai?
Is dit in die kronkel van die pad
of is dit daar waar die lang
reguit pad geen einde het?
Is dit buite, in die aandlug
onder die blink van die sterre?
Of is dit in die skuiling
van my huis?

Waar is hierdie plek?

In die nanag, wanneer ek
uitgeput aan die slaap raak,
soek ek hierdie plek in my drome,
maar ook hier,
vind ek dit nie.

In die vroegmore van die dag
maak U my wakker:

“Hou maar op met soek,
die plek wat jy soek
is binne in jou,
daar waar ek my gees
in jou gedeponeer het.
Daar waar ek belowe het
om jou nooit te verlaat nie.
Dis daar waar die eintlike rus is.
Die rus en vrede
wat vir elke menslike verstand
te groot is om te begryp.
Die rus wat geen vaste plek het nie,
want oral waar jy gaan,
daar is die rus.

Dis die rus en vrede
wat ek vir jou nagelaat het.
Jy het dit geërf, gratis gekry.
Elke dag is dit daar
elke oggend, splinternuut.
Gaan daarin, loop nog dieper,
dieper in hierdie rus.
Vertoef daar, bly daar,
moenie omdraai nie,
loop nog dieper.
Die rus word groter en groter.
Dieper en dieper
ontdek jy
ongekende vrede en
salige rus.”

Scroll to top