BELASTING
Hou jy daarvan om belasting te betaal?
Party mense betaal maandeliks belasting, ander weer jaarliks . Soms betaal ons maandeliks en dan nog een keer ‘n jaar ook wanneer die Ontvanger van Inkomste reken ons het maandeliks te min betaal. Soms, net soms betaal die Ontvanger van Inkomste aan jou ‘n bedrag terug, sou hulle reken jy het maandeliks te veel betaal.
Die meeste besighede, wat ‘n sekere omset bedrag per jaar oorskry, moet ook nog registreer vir BTW. Dan word daar van jou vereis om elke tweede maand BTW wat jy ontvang het, terug te betaal.
BTW voel vir my soos ‘n bose kringloop. Ek het lank geworstel met hierdie wet.
Die ding van BTW, is dat dit ‘n mens maand vir maand onkant vang.
Wanneer jy in die kleinhandel besigheid is, dan kom jy nie eers agter dat jy BTW ontvang nie. BTW word outomatiese by die verkoopprys vn ‘n item gevoeg, wat dan deel van jou daaglikse omset word. Dis nie asof hierdie BTW met elke transaksie in ‘n spesiale rekening gebêre word , gereed om elke tweede maand terug te gee aan die Onvanger nie. Nee, dit word saam met die verkoopprys in jou bankrekening inbetaal. Net sodra jy dink dat jou bankrekening hierdie maand nie te sleg lyk nie, dan kom die Ontvanger en eis sy 15% porsie daarvan terug.
15% Klink miskien nie so verskriklik, aardskuddend erg nie, maar op R100.000 is dit R15.000. Almal weet dat R100.000 inkomste glad nie baie vir ‘n besigheid is nie, maar R15.000 uitgawe is ‘n astronomiese groot bedrag vir ‘n besigheid!
So, kry jy die prentjie van my BTW frustrasie?
Ek was vir lank, baie lank, ‘n hele paar jaar om die waarheid te sê, kwaad vir die Ontvanger. Ek was kwaad vir BTW. Ek was selfs kwaad vir my onskuldige boekhouer (asof dit sy skuld is).
Ek het geweet dat daar iewers in die Bybel ‘n versie staan wat sê; “Betaal die keiser wat hom toekom”. Maar ek het selfs met hierdie Bybelvers ‘n probleem gehad. Ek het vir myself gesê dat dit nie van toepassing op die Suid-Afrikaanse regering is nie. Ek het sover gegaan om te dink dat ons land se keiser dit nie toekom nie!!
Ek het egter ook geweet dat ek nie langer elke maand so kwaad wil voel nie. Dit steel my vreugde en maak my lelik.
Ek het oor hierdie saak begin bid. Ek het lank hieroor gebid voordat ek deurbraak gekry het.
Ek het nie altyd die intieme verhouding met ons Vader gehad, wat ek die laaste jaar of wat het nie. Eers toe ek Sy hele Woord begin bestudeer en besef hoe onvoorwaardelik Hy ons liefhet. Eers toe ek besef dat Hy vir ons ‘n lewe in oorvloed belowe, maak nie saak wat ons finansiële toestand is nie, het lig vir my deurgebreek:
Johannes 10:10: “Die dief kom vir niks anders as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja sodat hulle dit oorvloedig het.”
(Dankie Jesus)
Ek het vanoggend, weer BTW betaal (dit was weer te veel volgens my vleeslike aard).
My boekhouer laai dit klaar vir my op my bank-toepassing, al wat ek moet doen is om die knoppie “pay now” te druk. Maklik, geen moeite vir my nie. Onmiddellik daarna is hierdie bedrag uit my bankrekening (eina).
Maar deesdae doen ek dit met ‘n ander ingesteldheid. Wanneer ek daardie “pay now” knoppie druk, dan bid ek: “Dankie Here dat hier genoeg fondse in my bankrekening is om hierdie bedrag te dek. Help die regering om hierdie fondse met oorleg en verantwoordelikheid aan te wend. Mag hierdie fondse help waar U wil hê dit moet help. Amen.”
Dan teken ek af vanaf my bank-toepassing en dink glad nie meer daaraan nie.
Ek lees in Romeine 13:6: Daarom moet julle ook julle belasting betaal. Hulle is immers dienaars van God wanneer hulle hulle taak getrou uitvoer. Kom dan julle verpligtings teenoor almal na: betaal belasting aan die wat dit van julle vra, tolgeld en alle soortgelyke heffings aan die wat dit van julle vereis; en respekteer en eer almal aan wie julle dit verskuldig is.
Amen en Amen op belasting!!
