ALLERBESTE

ALLERBESTE

Ek glo nie aan toeval nie.
Ek glo dat God dinge laat uitwerk op die regte tyd, die regte plek en regte omstandighede.

Dit was dus nie toeval toe ek drie dae in ‘n ry die volgende oor “doen jou bes” hoor nie:

1. Ek hoor hierdie “grappie” :
‘n groep mense word uitgevra oor watter tipe werk hulle doen vir ‘n lewe.
…….”en wat doen jy, mevrou?”, word sy gevra,
Waarop sy antwoord:
“ek doen my bes.”

2. Ek lees 1 Kor. 15:58 (NLV): Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.

3. 2 Tim.2:15 (NLV) : Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ‘n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie; iemand wat die woord van die waarheid reg verduidelik.

Nou ja, soos ek gesê het, ek glo nie aan toeval nie, ek glo die Here het my hierdie woord, drie dae in ‘n ry laat sien/hoor. So wat maak ek nou daarmee?

Hoekom gee U hierdie woord vir my, Here?
Is dit dalk ‘n vermaning? Hmmmmm…….

Ek was nog altyd die pligsgetroue-tipe-mens. So dan doen ek mos my bes?
Doen ek?
Ja, ek doen my werk goed. Ek is elke oggend agtuur op kantoor, my e-posse is altyd op datum, by die huis is my wasgoed en skottelgoed ook op datum (skoongewas deur my huishulp!)
Selfs my selfoon is ge-orden, onnodige foto’s is ge”delete”, “back-ups” word gereeld gedoen ens.
So ja, ek doen my bes.
Met my sosiale lewe doen ek ook moeite. Ek is aktief betrokke by die kerk se aktiwiteite, ek gaan sover moontlik, elke Sondag kerk toe en woon deur die week Bybelstudies by.
Dit lyk regtig of ek verstaan waaroor hierdie woorde, “doen jou bes” gaan.
Of hoe Here…..?

Asof ek met koue water in die gesig gegooi word en wakker skrik, antwoord die Here;

“Jy doen jou bes vir jouself ja, maar wat het jy vandag vir my gedoen?”

Here, ek moet my kop in skaamte laat sak.

Ek het U wysheid nodig, Here.
As ek die kennis gehad het
wat ek so in ander bewonder,
as ek ‘n geestelike reus was –
ja, Here, dan kon ek U seker net gevra het
om my te help om my bes te doen.
Maar ek is niks buitengewoons nie.
My beste is nie goed genoeg nie.
Ek weet nie genoeg nie ,my visie is nie helder genoeg nie.

Dit is nie goed genoeg dat U my net help nie.
U moet asseblief oorneem.

Ek wil graag leer, Here, maar as u Gees my nie leer nie,
beteken al my kennis niks.

Dit lyk my ek is ten minste besig
om ‘n bietjie te leer….
Nederigheid te leer.

Dankie Here vir u konstante teenwoordigheid
in my lewe.
Dankie dat U my hart verlig en my
wys om op U pad te loop.
Help my om dag na dag weer te kies
om U te volg.

Help my om vandag U genade
verniet weg te gee.
Laat iemand wat gekneus is,
vandag die heling van liefde ervaar,
die liefde wat ek uitgedeel het.

Here, leer my asseblief wat is my beste,
My allerbeste,
vir U.

Amen

Scroll to top