VUUR

VUUR

Ek lees in die nuus van die onlangse verwoestende brande in Natal.
Hoe begin so ‘n vuur? ‘n Vuur wat alles verswelg en verwoes. ‘n Vuur wat binne oomblikke lewens van mens en dier verander. Groot bome wat steier, die kleinste diertjies wat vergeefs probeer ontvlug. Voëltjies wat verskrik rondvlieg en later van uitputting en die enorme hitte, dood neerval.

Die wêreld lyk anders na so ‘n vuur.
Hoe begin so ‘n vuur?

“Met slegs ‘n enkele vonkie.”

Dit is al wat ek vandag nodig het, Here
Net ‘n vonkie.
Een, enkele vonkie.

Daarmee sal ek U Koninkryk
Aan die brand steek!

Ek wil koue harte weer aan die brand steek
met ‘n vuur van hemelse blydskap.
Ek wil die sluier voor dowwe oë afbrand,
oë wat weer verlig word in die vlamme van U vuur.

Ek wil die vuur aansteek van ‘n verlate siel.
sodat U teenwoordigheid so tasbaar word
soos die hitte van ‘n vuur,
U warmte wat hulle weer laat gloei.

Ek wil U weerkaats Here,
Help my om my gesig altyd na U te draai,
Sodat slegs ‘n vonk
weer die vlam laat opvlam,
‘n vlam wat verander in ‘n
verterende vuur.
‘n Verterende vuur wat die
wêreld verander en
nuwe lewe voortbring.

Nuwe lewe wat uitspruit
soos die klein groen spruitjies
in die swart verbrande vlaktes van my lewe.

Net soos fynbos hitte nodig het om te
ontkiem en voort te bestaan,
so het my gees U voortdurende
vonk nodig om die vuur binne in my
aan die brand te steek.
Dan kan die klein saadjies van U Woord
ontkiem
en mooiste fynbos laat blom.
Groei wat slegs deur U kan gebeur.
Dan kan ek my koning-proteas vir die wêreld wys,
Koning proteas van
Koning Jesus!

Hierdie vonk vind ek tussen die
Bladsye van U Woord.

2Tim.1:6
Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur aan te blaas. Want God het ons nie ‘n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.

Scroll to top