KANKER WAS DAAR EN NOU IS DIT HIER
“ 15 Junie 2018. Die dag toe my lewe vir altyd verander het.
‘n Helder sonskyn winters dag, wat met een telefoon oproep verander het in ‘n donker, yskoue winters dag. Koue wat my hart vasdruk, wat veroorsaak dat my asem in my longe vassteek. Koue wat my laat bewe van angs. Koue wat so koud is, dat ek nie normaal kan dink nie.
Koue wat maak dat ek hoopvol na die wolke kyk, hoopvol om die son te sien. Ek sien nie die son nie. Die wolke is te dig, swaar, vol ysige reendruppels.
Die wind begin ook waai. Stormsterk met hael en ys wat uit die wolke val en kliphard teen my huis se ruite slaan. Dit maak my bang. Wanneer gaan dit ophou? Gaan dit ophou?
Dit gaan ‘n lang, koue winter wees….
Ek verlang na die somer. Sorgvrye, warm dae.
Ek was nie veronderstel om kanker te kry nie. Ek het nie ‘n familiegeskiedenis van borskanker nie. Ek is nog jonk (53 jaar is nog jonk). Ek leef gesond.
Ek het ook nie ‘n mediese fonds nie. Dit gebeur net met vroue wat ‘n goeie mediese fonds het….
Wanneer het hierdie kanker selle in my liggaam begin vorm aanneem? Hoekom het dit my liggaam gekies? Gebeur dit dan nie net met ander mense nie? Het die dokters my reg gediagnoseer? Het hulle nie ‘n fout gemaak nie?”
Oktober 2025
Bogenoemde skryfwerk, het ek meer as sewe jaar terug geskryf, net na my kankerdiagnose. Ek het nooit hierdie stukkie skryfwerk voltooi nie. Vanoggend, het ek iets gesoek tussen my dokumente wat op my rekenaar gestoor is en hierop afgekom.
Ek het altyd geweet dat dit daar gestoor is, maar ek het dit net nooit weer gelees nie. Ek wou nie aan hierdie tydperk herinner word nie. Selfs wanneer mense my oor hierdie tyd sou uitvra, het ek altyd weggeskram. Ek wou nie daaroor praat en daaraan herinner word nie.
Die laaste tyd, sewe jaar later, praat ek al hoe makliker daaroor. Ek het selfs onlangs voor ‘n groot groep vrouens, daaroor getuig!
Die getal sewe, het ook dieper betekenis. Die assosiasie rondom die getal 7 in die Bybel is positief. Dit dui op volkomenheid of volmaaktheid.
7 Jaar later is ek volkome en volmaak herstel. Behalwe dat ek liggaamlik volkome herstel en gesond is, het die Here my hele menswens, my liggaam, siel en gees volmaak in Hom herstel. Hy het my in 7 jaar dinge geleer en gewys wat ek nooit van bewus was nie.
Ek het geleer om objektief oor dinge te dink. Ek het geleer om nie so vasgevang te word in hierdie siekte nie, dat dit later al is waaroor ek dink. Ek het geleer om weer op Jesus te fokus. Ek het geleer om Hom weer helder te ervaar en Sy Lig op ander te laat skyn. Ek het geleer dat niks in my hande of in die mense rondom my se hande is nie. Alles, my siekte en genesing is slegs in Sy hande.
Ek het geleer dat die diepste vorm van geluk is om ‘n verhouding met Jesus te hê.
Ek het geleer hoe om in ‘n verhouding met Jesus te staan. Ek het geleer wat dit beteken om Hom te soek. Ek het Hom gesoek in Sy Woord. Ek het geleer dat Sy Woord met my praat. Elke vraag wat ek gehad het, was in die Woord en die antwoorde, soos ‘n oopboek-eksamen, was daar! Al wat ek moes doen, was om Sy Woord oop te maak. Tydig en ontydig.
Ek het geen idee gehad, waarheen hierdie onbekende pad my sou lei nie. Daar was en is nog steeds, geen manier om te weet waar en hoe dit gaan eindig nie.
Een ding waarvan ek seker was en nog steeds is, is dat ek hierdie pad, hierdie lewe, nie sonder Jesus wil doen nie Miskien in my blote begeerte om Hom gelukkig te maak, alreeds vir Hom ‘n bron van vreugde. Miskien maak ek Hom nog steeds nie altyd gelukkig nie, maar verseker weet Hy dat dit my begeerte is en daarom het Hy genade met my.
Here, ek vrees nie die toekoms nie, want U is altyd by my.
My daaglikse gebed was en is nog steeds, dat God asseblief moet verhoed dat ek so vasgevang raak in my eie seerkry en pyn dat ek niks daaruit leer nie. Mag ek altyd daaraan herinner word dat daar nie ‘n enkele mens op hierdie planeet is wat pyn kan vermy nie. Mag ek altyd ‘n hart en deernis vir ander mense hê. Mag ek verby ontoepaslike gedrag en aggressie en woede van ander kyk, mag ek die pyn daaragter raaksien.
Mag ander, deur my optrede, iets van Jesus se liefde beleef.
Mag my pyn my nooit isoleer van my naaste nie. Mag ek dankbaar onthou dat ek nie eensaam in my pyn is nie. Mag ek bereid wees dat my arms en ore en hart en hande, Jesus s’n word.
Mag ek altyd uitreik.
Gebruik my Here. Ons is volkome afhanklik van U.
“Maybe the journey
isn’t so much about
becoming anything.
Maybe it’s about
unbecoming
everything that isn’t
really you,
so you can be who
you were meant to be in the first place.”
Hier staan ek nou Here. Gebruik my.
Vandag is my grootste hartsbegeerte om soos Jesaja uit te roep:
“Here, ek sal gaan! Stuur my!” (Jes.6:8)
“Die oes is so groot, maar die werkers is so min. Bid tot die Here wat in beheer is van die oes, en vra dat Hy meer werkers in die veld sal stuur.” – Lukas 10:2
Stuur my Here, gebruik my sodat U naam verheerlik sal word!
Amen.
