TWEEDE BESTE

TWEEDE BESTE

Was jy al in ‘n situasie waar jy net geweet het; jy is nie die eerste keuse nie?
Nie die een wat hulle sou kies indien daar ander keuses/opsies was nie. Jy was hulle “backup” plan. Hulle plan B.

Dit laat ‘n mens altyd tweede beste voel. Nie goed genoeg nie. Minderwaardig.

Ek dink dit is hoe Lea moes gevoel het. Ek het weer haar verhaal gelees in Genesis 29.
Lea was ‘n vrou wat getroud was met ‘n man (Jakob) wat haar nie gekies het nie. ‘n Man wat haar nie liefgehad het nie. ‘n Man wat haar nie wou gehad het nie.
Jakob het haar suster, Ragel gekies. Volgens die Bybel was Ragel beeldskoon met ‘n pragtige figuur. Van Lea lees ons: “Lea het sagte oë gehad.” Dit is al wat ons lees oor Lea se voorkoms, maar Ragel was in alle opsigte beeldskoon. Ragel was Jakob se eerste keuse.

Op die huweliksnag het Laban, Ragel en Lea se pa, vir Jakob mislei deur vir Lea, toe dit donker was na Jakob te neem om by hom te slaap.
Jakob, wat self jare terug vir Esau en sy pa mislei het, word nou deur Laban mislei! Nou staan Jakob aan die ontvangkant van misleiding.
Het die lewe nie maar altyd ‘n manier om dinge weer te balanseer nie?

Maar die ding waaroor ek gewonder het, is hoe werk en droom jy sewe jaar oor ‘n vrou en word wakker langs ‘n ander vrou? Hoe het Jakob nie vir Lea herken nie?
En toe tref dit my dat dit nie net Laban was wat vir Jakob mislei het nie. Dit was God wat ‘n plan gehad het. As Jakob toegelaat was om vrylik te kies sou hy nooit vir Lea gekies het nie.

Maar God het alreeds Lea se storie geskryf.

Soms word ons ook nie gekies as eerste keuse nie. Maar ons is gekies en is in daardie posisie vir ‘n doel.
Lea het nie in Jakob se lewe gekom deur romanse nie. Sy het in Jakob se lewe gekom as gevolg van goddelike ingryping.
Die Woord verduidelik dit eintlik so mooi in Gen. 29:31: Omdat Lea minder geliefd was, het die Here vir haar kinders gegee, maar Ragel was kinderloos.

Lea was verwerp. Maar God het haar ellende raakgesien.

Miskien voel jy ook verwerp en dat niks vir jou uitwerk nie. Miskien is jy nie die bes gekwalifiseerde een nie of die mooiste en gewildste nie.
Maar God sien dit raak wanneer ons nie geliefd is nie. God sien jou wanneer jy deur mense oorgesien word.
En soms, wanneer ons nie aan menslike standaarde voldoen nie, vergoed God ons met guns.

Lea het ‘n hele paar seuns vir Jakob gegee. Ruben, Simeon, Levi. En elke keer wanneer ‘n seun gebore is, het sy gesê: Nou sal my man vir my lief wees.
Sy het dus alles gedoen om sy liefde te wen. Sy het seuns in die wêreld gebring met die hoop dat haar waarde by Jakob sal styg en dat hy haar uiteindelik ook sou kies en liefhê.

En dit is wat ons ook soms doen. Ons werk harder as almal, buig agteroor en put ons siel uit. Ons hardloop voordurend om almal gelukkig te hou. Nie omdat hulle dit van ons verwag nie, maar omdat ons streef na aanvaarding. Ons probeer bewys dat ons waardig is en vergelyk ons konstant met ander.

Lea was vrugbaar maar haar hart was honger. Totdat iets in haar geskuif het.

Genenis 29:35: Sy het nog ‘n keer swanger geword en ‘n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Juda genoem, want, het sy gesê: “nou sal ek die Here prys!”. Daarna het sy nie meer kinders gehad nie.

Sien jy wat het hier gebeur? Die eerste drie seuns het sy gebaar uit ‘n begeerte vir Jakob se aandag. Maar Juda is gebore uit ‘n openbaring.

Iets in haar het gebreek en genees. Sy het besef: Ek mag dalk nooit die liefde van Jakob ontvang nie maar God het my raakgesien.

Die oomblik toe sy verander het, toe haar gedagtes en gemoed geskuif het van presteer vir ‘n man se aandag, na lofprysing aan God. Sy het opgehou om te probeer bewys dat sy net so goed is. Sy het opgehou om te kompeteer met Ragel. Sy het opgehou om te probeer om dit te kontroleer wat nooit hare was nie.

Sy het geboorte gegee aan ‘n nuwe houding. En hierdie houding was lofprysing.

Vanuit Lea is gebore Levi, die priesterlike stam.
Vanuit Lea is gebore Juda, die stam van konings.
Vanuit Juda kom Dawid.
Vanuit Dawid kom Jesus.

Christus het nie uit die beeldskone Ragel gekom nie. Hy het gekom uit die tweede beste een. Die een wat verwerp was.

So onthou dit wanneer jy ook soms nie gekies word deur mense nie. Miskien het jy iets baie gewigtigers wat jy dra as bloot oppervlakkige gewildheid.

Indien jy dalk soos Lea in die vertrek voel, hou op om jouself met ander te vergelyk of te kompeteer. Stop. Gee geboorte aan Juda.

Begin om God te prys wat jou sien wanneer jy tweede beste voel.

Lea se deurbraak het nie gekom deurdat Jakob verander het teenoor haar nie. Sy het verander en daarmee het die hele geskiedenis verander.
Die verwerpte vrou, het die draer geword van Christus.

Jy mag dalk nie die een wees wat mense kies nie, maar jy mag die een wees wat deur God gekies is. En dit is al wat saak maak.

Amen.

Scroll to top