HOEKOM DOOP?
• Jesus het dit beveel. Doop is gehoorsaamheid aan Jesus.
Ons lees in Handelinge 2:38: Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.
Mattheus 28:19: Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
• Jy begrawe die ou mens en staan op in die nuwe mens.
Jy het nou ‘n nuwe identiteit in Christus.
Doop wys dat jou ou lewe verby is en jy nou nuut in Christus leef.
Rom 6:3,4: Of het julle vergeet dat ons met ons doop een geword het met Christus Jesus en so saam met Hom gesterf het? Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ‘n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ‘n totaal nuwe lewe leef.
Kolossense 2:12: Toe julle gedoop is, is julle saam met Christus begrawe. Omdat julle een is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak – hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het!
Wanneer jy dus onder die water gedompel word, word jy saam met Christus begrawe. Maar Christus het opgestaan en dit is daardie oomblik wanneer jy weer uit die water gelig word, dat jy ook saam met Christus opstaan!
• Jou geloof word openbaar. Jy getuig in die openbaar van jou geloof.
Doop sê vir die Gees wêreld: Ek behoort nou aan Jesus.
Ek het vir ‘n baie lang tyd van my lewe al hierdie Skrifte geïgnoreer. Nie gedink dis nodig nie. Ek is mos as baba “gedoop” en ek het mos die Here in my lewe aangeneem. Ek behoort nou aan Jesus.
Ek het al hierdie Skrifgedeeltes eers baie later begin verstaan en op 59 jarige ouderdom het ek die insig en kennis en wysheid ontvang en my laat doop!
Ons doop nie om ons liefde aan God te wys nie. Die doop is iets wat ons ontvang om ons geloof te versterk! Die doop is iets wat God aan ons doen voordat ons kon kies of vra! Die doop is ‘n aksie van God aan ons. In die doop is ons passiewe ontvangers van die bevestiging van God se liefde.
God verbind Homself aan ons deur die doop.
Die doop is dus nie ‘n “magic” aksie wat jou red nie. Dis net ‘n bevestiging van God se onvoorwaardelike en onfeilbare liefde.
Leef daarom uit die wete dat God jou gekies het. Ons sekerheid lê nie in onsself of in hoe goed ons is of probeer wees nie. Ons sekerheid lê in die karakter van God. Ons sekerheid lê in die liefde en genade van God.
Markus 16:16: Elkeen wat glo en gedoop word, sal verlos word.
Dankie Here, dat U, Uself aan my verbind het met my doop! Dankie dat die doop ‘n aksie van U aan ons is! Al wat ons moet doen is om in gehoorsaamheid op te tree en U te ontvang!
Dankie Here dat U ons bederf met ‘n sakrament van die doop. Ons verdien niks en tog gebruik U die doop om U aan ons te verbind en aan ons te wys hoe oneindig lief U ons het!
Dankie Here! Amen
