IS JY BANG?

IS JY BANG?

Ek lees onlangs op “facebook” ‘n vraag wat iemand vra. Gewoonlik sal ek nou nie stil staan by sulke vragies of die kommentare daarop lees nie, maar hierdie vraag het my aandag gehad!

Die vraag was: “Wat sal jy doen as jy nie bang was nie?”.

Ek het die kommentare daarop gelees. Baie daarvan was dat mense meer besigheids geleenthede sou aangryp, sonder om bang te wees dat dit sal misluk. Een vrou het gesê dat sy graag alles sou wou los en net vir die Here werk, maar sy is te bang. ‘n Ander een sou alles oppak en erens nuut oor begin. Iemand anders sou dit dalk weer gewaag het om lief te hê. ‘n Ander persoon het gesê: “Voluit leef.”

Ek het ook oor hierdie vraag gedink en het tot die besef gekom, dat ons, met ons antwoorde eintlik sê, dat ons glad nie in Jesus, die Woord, glo nie! Want as ons werklik glo in Jesus se beloftes in Sy woord , sou ons geen bang haar op ons koppe gehad het nie!

Hoor wat staan in Fillippense 4:19: “ Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy heerlike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het.”

Glo ons dit?

Matt. 6:25: Hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek.
Vers 27: Kan al julle bekommernisse julle lewe een sekonde langer rek?
Matt 11:28: Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.
Ps. 103:3-5: Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie n oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk.

Hierdie is slegs ‘n paar beloftes in Sy Woord. Kom ons besluit om vandag weer Sy Woord te glo.
Wanneer ons regtig glo en vertrou dan sal ons nie bang wees om voluit te leef nie. Voluit leef is beslis wat God vir ons in gedagte gehad het toe hy ons geskape het. Hy het nie vir ons ‘n lewe van halfhartigheid en vrees en ongeloof in gedagte gehad nie. Nee, Sy doel en plan vir ons lewe is om in oorvloed te leef.
Ek is ook weer vandag herinner aan die Skrif in Johannes 6:9-13 van die seuntjie wat sy vyf garsbroodjies en twee vissies vir Jesus gegee het om meer as vyfduisend mense te voed. Die seuntjie het geweet dat hy nie die mense daarmee kon voed nie, maar Hy het sy vertroue en geloof in Jesus geplaas wat dit kon doen. Die seuntjie het die min wat hy gehad het, slegs vir Jesus gegee in die vertroue dat Jesus daarmee ‘n wonderwerk kon doen.

Wat wil jy vandag vir die Here gee?

By God is niks onmoontlik nie. In Genesis het Hy vir Sara gevra, toe sy in ongeloof vir Hom vra of dit dan enigsins moontlik is dat ‘n bejaarde vrou soos sy nog ‘n kind in die wêreld kan bring, toe vra Hy vir haar, volgens Gen. 18:14: “Is daar enigiets wat te moeilik is vir die Here?”

Ek lees in Jakobus 2:19: “Jy glo dat daar net een God is. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder, so bang is hulle!”

Hierdie vers herinner ons dat geloof sonder dade, dood is. Dit beteken niks. In vers 17 staan daar geskryf: “Om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks.”

Kom ons word weer roekeloos, vreesloos sterk in ons geloof. Vreesloos omdat ons weet ons aanbid die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.

In Handelinge 3 vra Petrus vir die Israeliete, vir wat kyk hulle hom so aan, nadat hy in die naam van Jesus, ‘n verlamde man gesond gemaak het. In vers 16 sê Petrus vir hulle: “Die Naam van Jesus het hierdie man se bene weer sterk gemaak – en julle weet hoe verlam hy was.
Geloof in die Naam van Jesus het hom heeltemal gesond laat word, hier reg voor julle oë.”

Het ons hierdie geloof in die Naam van Jesus?

Gebed:
Dankie Here vir U Woord. U Woord wat ons in staat stel om te verander. Vader ons bely dat ons heel dikwels nie glo nie. Ons hou vas aan vrese wat die wêreld ons wil laat glo. Help ons Here om meer tyd saam met U te spandeer om sodoende ons geloof te versterk. Dankie vir die belofte in
Matt. 6:33: “ Soek allereers die Koninkryk van God en al hierdie dinge sal vir julle toegevoeg word.” Dankie Here dat ons vry en vreesloos saam met U hierdie lewe kan geniet. Dankie Here dat niks vir U te moeilik is nie. Amen

Scroll to top