Gisteroggend voor kerk, terwyl ek rondstaan en almal groet wat inkom, sê ‘n vrou, so half terloops, in die verbygaan, vir my;
• “jy lyk anders”.
Sy wag egter nie op my antwoord nie en stap aan.
Ek voel oor my hare, hmmm, dit voel nog reg.
Ek kyk af na my lyf, my klere lyk ook of dit nog reg aan my sit.
Selfs my skoene lyk nog skoon, nadat ek deur die reen gehardloop het om die kerk so droog as moontlik te bereik.
So wat sou anders lyk?
Ek stap toe ook maar aan.
Die diens begin. Ek hoor die woorde;
• “Jy is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk die nuwe is hier!”
Erens in my kop, word hierdie woorde gebêre, vir later se onthou.
Na die diens, terwyl ek terugstap na my motor, hoor ek twee persone, wat agter my loop, se gesprek:
• “Die aarde lyk altyd vir my nuut nadat dit gereen het. Dit ruik sommer so vars en skoon.”
Later die middag, gaan eet ons middagete by ‘n plaaslike restaurant.
Soos altyd, word ons baie vriendelik gegroet , maar vandag se groet was effens anders.
Die kelner wat ons groet en ons tafel aanwys, fluister in my oor, terwyl sy my stoel vir my uittrek:
• “Mevrou straal ‘n heerlikheid uit, wat ek nog nie vantevore opgemerk het nie. Dit is is pragtig.”
Ek was in ekstase oor haar kompliment, maar terselftertyd, stil.
Stil in verwondering.
Verwondering oor ons God. Die manier hoe Hy homself verskillend aan elkeen van sy skepsels openbaar.
Hy is byvoorbeeld lief om met my deur herhaling te praat. Hy sal ‘n paar keer dinge vir my uitwys, of vir my laat hoor of sien. Dan weet ek, okay, Hy wil iets vir my sê. (Snaaks my ouers het altyd net nodig gehad om een keer te praat voor ek luister!)
Met ‘n ander persoon hoef hy net een keer te praat en hy/sy luister.
Hy bevestig Homself altyd so aan my.
Goed, ek het vandag vier keer gehoor ek lyk anders. Ek is oortuig dat God iets vir my wil sê.
Ek vra Hom dus wat dit is.
Maandagoggend, toe ek my Bybel oopmaak by 2 Korintiers , toe kry ek my antwoord:
2 Kor 2:14: Deur ons versprei Hy die aangename geur van sy kennis op elke plek. Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg.
Vers 16: Elke keer as iemand hom na die Here toe draai, verwyder Hy die sluier.
Vers 18: Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.
Dit is wat ons Vader doen. Hy verander ons. Hy maak ons nuut.
Ons ontvang dit heeltemal verniet!
Kan ek vandag vir jou en my bid?
Vader, soms voel ek oorweldig.
Oorweldig in die wete dat ek te klein is om met U te praat.
U is so groot Here, so ontsaglik groot.
Dat U iets,
iets so groot kan doen
soos om my nuut te maak.
Sonder dat ek “botoks” of
‘n “face-lift” kry,
kom doen U dit in my slaap.
U heerlikheid verlig my gesig
en straal U grootheid,
U heerlikheid,
U lieflike geur,
U teenwoordigheid uit.
Sonder dat ek ‘n vinger hoef te roer,
verander ek lewens
slegs deur U heerlikheid
uit te straal.
Kom, Here, gee nog,
nog en nog
van U heerlikheid.
Terwyl U heerlikheid in my lewe toeneem,
word ek innerlik
van dag tot dag
vernuwe.
Ek is ‘n nuwe mens, Here.
Splinternuut.
Ek raak jonger,
dag na dag.
Daar is niks,
maar niks,
wat opweeg teen U heerlikheid nie.
U heerlikheid
oortref alles by verre!
Amen.