LIG
Spreuke 4:18 (NLV): Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek, wat al helderder word totdat die volle dag aanbreek.
Die 2020 vertaling lees as volg: Die pad van regverdiges is soos die helder oggendlig – dit verhelder geleidelik tot die volle dag.
Die 1983 vertaling lees: Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is.
Hierdie vers herinner ons daaraan dat groei in die lewe nie eensklaps gebeur nie, maar eerder ‘n voordurende proses.
In vers 19 lees ons dat die pad van die goddeloses soos stikdonker is. Hulle weet nie eers waaroor hulle gestruikel het nie.
Ek wil verseker nie op daardie stikdonker pad loop nie!
Die lewe van ‘n gelowige begin dikwels soos vroeë oggendlig. Wanneer alles nog maar net skemer is.
Ek kan nog so goed onthou toe ek my hart vir die Here gegee het. Dit was nie asof alles met eensklaps perfek en reg en lig was nie. Daar was nog baie tye, eintlik meer tye as voor my redding, dat ek vrae en twyfel gehad het. Maar soos die tyd aangestap het en ek elke dag saam met God gewandel het, het dinge duideliker begin word. My pad het ligter gelyk, sodat ek God se stappe kon volg. Ek kon nou duidelik sy voetspore voor my, in die verligte pad sien. Dis nou nie meer donker of skemer, sodat ek moet wonder of ek op die regte pad stap nie!
Ps. 97:11: Oor regverdiges skyn daar lig, en daar is blydskap vir hulle wat opreg is.
Ps. 119:130: Begrip vir u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige.
Jes. 60:1 Staan op Jerusalem, laat jou lig skyn sodat alle volke dit kan sien! Want die Here se heerlikheid skyn op jou.
Ps. 27:1 : Die Here is my lig en my redding.
Mat. 5:14: Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
1 Joh. 1:5: God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in Hom nie.
Hierdie verse dui daarop dat ons God moet weerspieël. Dit dui daarop dat gelowiges geroep word om God se karakter en liefde in ‘n donker wêreld moet weerspieël.
Na Jesus se hemelvaart was Sy opdrag dat ons nou Sy verteenwoordigers in hierdie donker wêreld moet wees. Jesus/God IS lig.
Johannes 8:12: Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.
Johannes 1:4-9: In Hom was daar lewe, en die lewe het gedien as die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie! Daar was ‘n man, gestuur deur God, met die naam Johannes. Hy het gekom met die doel om ‘n getuienis te lewer, om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo. Hy was nie self die lig nie, maar het net kom getuig oor die lig. Hy wat die betroubare lig is, wat elke mens verlig was op pad na die mensewêreld.
Daar is nog so baie skrifte in Sy Woord wat ons vertel van die Lig en dat ons die lig van die wêreld moet wees, en tog leef so baie van ons in duisternis.
Alhoewel ons glo in Jesus, weet ons heeltemal te min van Jesus Christus! Daarom leef ons in der waarheid nog steeds in die duisternis, omdat ons tevrede is om maar net te leef.
Die enigste manier om nie net te leef nie, maar om die lewe te hê, is om die lewe by God te kry. Hy is lewe. Hy het lewe. Hy gee lewe. Hy is ons lig en wanneer ons naby aan Hom leef, in Hom leef en Hy in ons, dan kan ons Sy inwonende Lig uitstraal.
Alhoewel die wêreld nog steeds duisternis het, siekte is deel van die lewe ens. Maar hierdie swaarkry, hierdie duisternis het nie meer die mag oor my nie. Want ek het nou die onuitblusbare Ewige Lig in my lewe!
Die wêreld om my is nog donker, maar ek het die Lig!
Hallelujah! Dankie Jesus vir U lig.
Ek kan nog baie, baie meer Skrifte aanhaal oor die Lig, maar dis te veel vir hierdie blad! Ek wil jou egter aanmoedig, diep aanmoedig om waarlik Sy Lig volkome in jou lewe te ontvang. Vra Hom, Hy sal die begeerte in jou hart aanwakker om Hom te volg.
Dit sal aanvanklik begin soos ‘n fluistering, ‘n sagte straal wat die donker versag.
Soos die ritseling van blare wanneer ‘n sagte briesie daardeur waai.
Dit sal voel soos die warm gloed van ‘n vuur wat jou stadig van binne af, warm maak.
Dit sal voel soos daardie pleister wat jou ma op ‘n stukkende plek geplak het en jou dadelik beter laat voel het, alhoewel die stukkende plek nog steeds daar was!
Dit sal klein begin.
Soos ‘n warm bad water waarin jy lê en hoe langer jy lê, hoe meer warm water tap jy by, bietjie vir bietjie, todat jou bad vuurwarm is.
Dit sal wees soos daardie oggendson met dagbreek, aanvanklik neem jy eers net die skemer waar, maar soos die tyd aanstap, word dit al hoe helderder .
Maar die eintlike geheim oor hoe om elke dag Sy Lig te skyn, is om in Hom te bly.
Lees en oordink Sy Woord dag en nag.
Bid sonder ophou.
Omring jou met positiewe, geloofs mense.
Dis dan dat jy stadig maar seker, bietjie vir bietjie verander word om soos Hy te lyk.
Hy is Lig.
Dit is hoe Hy lyk.
En dit is die enigste manier, hoe jy moet lyk:
Lig.
Amen.
