NEHEMIA

NEHEMIA

Het jy al die storie van Nehemia gelees? Mens wonder soms hoekom hierdie of daardie gedeelte in die Bybel opgeneem is. Van watter waarde is dit vir jou om dit te lees en te weet?
Wat ek verseker weet, is dat nie een enkele woord in die Bybel verniet opgeneem is nie! Elke woord, elke storie is daar geplaas om ons iets te leer oor God.
Veral in die Ou Testament, kan ons leer van God se betrokkenheid by die mens. Hoe God keer op keer betrokke raak in ons lewens, sodat Hy enige situasie kan gebruik tot Sy eer. Ons sien ook hoe God ons (Israeliete) keer op keer weer vergewe en terugneem, wanneer ons terugdraai na Hom!
In die boek van Nehemia kan ons duidelik sien hoe Nehemia, getrou aan God bly ten spyte van swaarkry en ellende. Hoe Nehemia die mense/bouers wat swaar aan die muur bou, ophef en aanmoedig. Ons sien hoe Nehemia naby aan God leef en daarom onmiddellik weet dat hy nie moet reageer op Sanballat se uitnodiging om hom te ontmoet nie. Nehemia weet dadelik dat dit nie van God kom nie en dat dit ‘n lokval is. Sou Nehemia nie ‘n verhouding met God gehad het nie, sou hy, heel moontlik, oop oë in hierdie lokval geloop het.
En kyk aan die einde van die boek Nehemia hoe uitbundig verheug en bly die mense van Jerusalem was, nadat hulle die muur weer herbou het. Niks hiervan sou gebeur het, was dit nie vir Nehemia se deursettingsvermoë en sy onwrikbare geloof en vertroue in God nie.

Kom ons wees ook vandag die verskil in iemand se lewe deur ons eie geloof en vertroue in God.
Lees gerus hieronder die inspirerende verhaal van Nehemia. Ten spyte van teenstand en moeilike omstandighede, het Nehemia vas bly staan in sy geloof tot God, kon hy mense inspireer en kon hulle die muur van Jerusalem weer herbou.

“Dit het nie goed gegaan met die Jode wat in ballingskap oorleef het nie. Die omstandighede in Jerusalem was nie goed nie. Daar was groot ellende en bespotting. Jerusalem se muur het omgelê en die stadspoort is deur vuur vernietig.

Hierdie nuus het Nehemia, wat in daardie stadium in die vestingstad Susan gebly het, by sy broer gehoor. Nadat hy hierdie neerdrukkende nuus ontvang het, het hy gaan sit en huil. Vir dae aaneen het hy gevas en gebid.
Hy het God herinner aan Sy verbondsbelofte en dat God altyd getrou bly teenoor die wat God se gebooie gehoorsaam.
Hy het uitgeroep: “Hoor my gebed!”
Nehemia het egter ook bely dat dat hy en sy familie, saam met die res van die Israeliete sonde gedoen het.
Hy herinner God ook aan Sy belofte aan Moses, dat wanneer die volk weer terugkeer na Hom, dan sal God hulle terugbring na die plek waar Hy verkies dat hulle Hom moet aanbid, al is hulle oor die uithoeke van die aarde versprei.
Hy vra verder vir God dat hy tog suksesvol moet wees wanneer hy (Nehemia) die koning ‘n groot guns vra. Hy vra dat die koning hom goedgesind moet wees.
In daardie stadium was Nehemia die koning se wynkelner.

Vier maande later, was Nehemia besig om vir die koning wyn te skink toe die koning vir hom vra; “Hoekom lyk jy so hartseer? Jy is mos nie siek nie. Jy lyk diep bekommerd.”
Toe eers het Nehemia vir die koning vertel van sy bekommernis oor die stad Jerusalem wat verwoes is.
Die koning het dadelik gevra; “Hoe kan ek jou help?”
Nehemia vra toe die koning om hom na Juda te stuur, sodat hy kan help met die herbou van Jerusalem.
Die koning het ingestem en ook briewe saamgestuur wat die goewerneurs van die provinsie wes van die Eufraatrivier opdrag gee om Nehemia veilig te laat trek deur hulle gebiede, asook ‘n brief vir Asaf, die toesighouer van die staatsbos, wat hom beveel om hout te voorsien aan Nehemia wat hy wil gebruik vir die balke en deure van die vesting by die tempel, vir die stadsmure en vir die huis waarin Nehemia sal woon.

Sanballat was ‘n belangrike leier en goewerneur van Samaria. Hy was Nehemia vyandiggesind nadat Nehemia en sy mense begin het met die herstel van die mure.
Nehemia het weer tot God gebid en die mense het baie hard gewerk en uiteidelik was die muur reg rondom die stad tot halfpad die oorspronklike hoogte herbou. Toe Sanballat dit hoor het hy en sy aanhangers baie kwaad geword. Hulle het planne beraam om teen Jerusalem te veg. Hulle wou kom om verwarring te veroorsaak. Maar Nehemia en sy mense het tot God gebid. Hulle het die stad dag en nag bewaak.
Maar die vyand het gesê: “Die bouers is besig om moeg te word, voordat hulle besef wat gebeur, is ons tussen hulle. Dan maak ons hulle dood en bring ‘n einde aan die bouery.”
Die Jode het vir Nehemia kom waarsku dat die vyand uit alle rigtings kom om hulle aan te val.
Hulle het toe wagte aangestel, gewapen met swaarde, spiese en boë.
Nehemia het toe sy mense gewaarsku en gesê dat hulle nie bang moet wees vir die vyand nie. Hulle moet in gedagte hou dat die Here groot en vreesaanjaend is.
Maar van toe af kon net die helfte van die mense met die bouery aangaan, die ander helfte moes wag staan.
Die werkers wat die boumateriaal aangedra het, het hulle werk met een hand gedoen. In die ander hand was ‘n wapen. Al die bouers het gewerk met ‘n swaard aan hulle sye vasgemaak.
Die trompet speler, wat moes blaas wanneer hulle almal vinnig bymekaar moet kom, het by Nehemia gebly.
Hulle het van sonsopkoms tot sonsondergang gewerk.
In hierdie tyd, het niemand van hulle ooit hulle klere uitgetrek nie. Hulle het hulle wapens te alle tye saam met hulle gedra.

In hierdie tyd was daar ook klagtes van die volk en die vroue. Hulle het groot families en moes koring in die hande kry om te oorleef.
Ander het gesê dat hulle hulle landerye, wingerde en huise moes verpand om kos in die hande te kry.
Nog ander het gesê dat hulle geld moes leen om die koningsbelasting op die landerye en wingerde te betaal. Hulle moes hulle kinders as slawe verkoop om genoeg geld te kry om van te leef.

Nehemia was kwaad toe hy dit gehoor het en het die leiers aangespreek omdat hulle, hulle eie mense uitbuit. Hy het vir hulle gesê dat wat hulle doen nie reg is nie en vir hulle gevra of hulle leefwyse dan nie moet wys dat hulle God respekteer nie?
Hulle moes die landerye, wingerde , olyfboorde en huise teruggee en ook rente terug betaal.
Hy het toe die priesters, leiers en amptenare ‘n eed laat sweer dat hulle dit wel sal doen.
Toe het Nehemia ook sy sakke uitgeskud en gesê: “Mag God julle net so uitskud uit julle huise en julle eiendom as julle nie julle belofte nakom nie!”

Nehemia was vir 12 jaar lank die goewerneur van Juda. In hierdie tyd het nie hy of sy amptenare die kostoelaag waarop hy geregtig was gebruik nie, soos wat die geval met die goewerneurs voor hom was nie. Hulle het die mense swaar belas.
Maar Nehemia het nie so opgetree nie, omdat hy vir Gd ontsag het.
Hy het sy aandag aan die bou van die muur gegee en nie vir hom ‘n stuk grond aangeskaf nie.

Nehemia noem dit in een van sy gebede: “My God, onthou asseblief alles wat ek vir hierdie mense gedoen het. Wees daaroor goed vir my.” (Neh. 5:19)

Sanballat en die ander vyande het gehoor dat die bouwerk aan die muur amper voltooi is en stuur toe ‘n boodskap aan Nehemia dat hy hulle moet ontmoet in een van die dorpies. Nehemia het besef dat Sanballat beplan om hom kwaad aan te doen.
Nehemia het toe ‘n boodskap teruggestuur dat hy besig is met ‘n groot taak en nie kan kom vir die ontmoeting nie. Sanballat het vier keer hierdie boodskap vir Nehemia gestuur en die vyfde keer het hy die boodskap gestuur dat hy weet wat Nehemia beplan. Hy beweer toe dat Nehemia beplan om koning te word. Hy waarsku Nehemia dat die koning daarvan te hore gaan kom en dat Nehemia liewer die saak met hom moet kom bespreek.
Nehemia laat weet hom toe dat daar geen waarheid in steek nie en dat Sanballat dit self uitgedink het. Nehemia sê toe dat hy hom nie sal laat intimideer nie. Hy sê dat hy vir krag gebid het en dat die werk sal voortgaan.
Semaja het vir Nehemia gesê dat hy homself moet beskerm deur in die tempel te skuil.
Nehemia anwoord egter: “Behoort iemand soos ek vir gevaar weg te vlug? Behoort iemand soos ek in die tempel te skuil om my lewe te red? Nee, ek sal nie ingaan nie.!” (Neh. 6:11)

Op 2 Oktober is die muur voltooi, 52 dae vandat hulle begin het met die bouwerk. Toe die nuus sy vyande bereik, het hulle besef dat God hulle met die bouwerk gehelp het.

Jerusalem was groot en uitgestrek, maar die inwonertal was min. Die huise was nog nie weer herbou nie. God het toe aan Nehemia die idee gegee om al die leiers, die amptenare en die mense bymekaar te roep en volgens hulle families te registreer.
Teen middelherfs was die mense van Israel weer in hulle eie dorpe gevestig.

Die mense het toe almal op die plein voor die Waterpoort bymekaargekom. Hulle het die skrywer Esra gevra om die wetboek van Moses te bring.
Hy het daarin vir hulle voorgelees.
Daarna het Nehemia vir hulle gesê om lekker te gaan eet en te drink en ook hulle kos te deel met mense wat nie het nie. Hy het gesê dat hierdie dag aan die Here toegewy is en dat hulle nie hartseer moet wees nie, want die blydskap wat die Here gee, sal hulle krag wees. (Neh. 8:10)

Met die inwyding van die muur om Jerusalem het hulle die Leviete oral by hulle huise gaan soek en gevra om na Jerusalem te kom. Hulle moes met die seremonies help en met lofliedere en musiek aan die feesvierings deelneem.
Twee groot kore het op die muur gestaan en gesing. Een koor het Suid gestaan en die een aan die Noordekant.

‘n Mens kon die blydskap van die mense in Jerusalem ver hoor.”

Hoe ver hoor die mense ons blydskap vandag? Is ons nog bly?

Ps. 118:24: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

Scroll to top