GETUIENIS

GETUIENIS

Johannes 1:6-8: Daar was ‘n man, gestuur deur God, met die naam Johannes. Hy het gekom met die doel om ‘n getuienis te lewer, om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo.
Hy was nie self die lig nie, maar het net kom getuig oor die lig.

Het jy al na iemand se getuienis geluister en dan voel jy daarna, sommer weer versterk in jou geloof?
Getuienisse waar jy net weet dat as God nie hier ingegryp het nie, sou dit ‘n heel ander storie gewees het.
Getuienisse help mens om weer van voor af op God se genade en goedheid te vertrou. Daarom is dit belangrik dat ons mekaar ook in hierdie manier sal ondersteun en versterk. Ek wil amper so ver gaan om te sê dat dit ons plig is om te vertel van God se goedheid, Sy genade en ingryping in ons lewens.

Ek lees in Johannes 10 van Jesus wat vir die Joodse leiers verduidelik dat Hy die Seun van God is, nadat hulle Hom nie wou glo nie. In vers 37, sê Jesus die volgende: “As ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle ophou om in My te glo. Maar as Ek dit doen en julle sou nie in My glo nie, glo dan die werke sodat julle kan begryp en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”

Hierdie gedeelte dui daarop dat Jesus nie omgegee het of hulle in Hom as mens glo nie, maar dat dit wel saak maak dat hulle Sy werke moet glo. En vandag is dit ons verantwoordelikheid om Jesus se werke op aarde voort te sit. Ons moet aangaan met Sy werke, ons moet wonderwerke doen, sodat ander mense sal begin glo. Ons moet deur ons werke getuig.

Handelinge 1:8: Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel.

Hoe kan ek elke dag getuig? Moet ek wag dat ek ook ‘n groot, opspraakwekkende storie het? Beslis nie!

• Wanneer jy jou Bybel lees, skryf dit neer wat jou getref het en kies ‘n mede gelowige om dit mee te deel. Vertel vir hom/haar hoe hierdie vers jou nou ‘n nuwe perspektief gegee het en hoe die lig vir jou in ‘n spesifieke area deurgebreek het.
Daar is jou eerste getuienis vir die dag! Ek is seker hierdie mede gelowige sal ook hierdeur versterk word.

• Skryf neer wat jou ervaring van Jesus die afgelope jaar was. Deel dit met ‘n vriend of sommer met die gemeente.

• Begin bid vir iemand wat nog nie die blydskap van ‘n verhouding met Jesus het nie. Verwag ‘n verandering en wonderwerk in daardie persoon.

• Wanneer jy in ‘n nou verbintenis, soos Johannes, met God begin loop, sal jy elke dag ‘n getuienis of drie hê om te vertel! Partykeer hoef jy nie eers iets te sê nie, mense sal sommer net in jou algemene optrede sien dat Jesus jou reaksie bepaal. Jy sal anders as jou ongeredde vriend reageer wanneer jy slegte nuus ontvang. Jy sal selfs anders kwaad word. Jy sal ‘n kalmte en vrede oor jou hê wat alle verstand te bowe gaan, en dit op sig self, is ‘n getuienis!

• Mense sal jou diep omgee vir jou naaste raaksien en jou lewe, hierdie stille getuienis van jou, sal veroorsaak dat hulle begin glo.

1 Johannes 5:6-12: Dit is Hy wat deur die water en die bloed gegaan het, nie slegs deur die water nie, maar deur die water en die bloed. Die Gees is die Een wat daaroor getuienis aflê omdat die Gees die waarheid is. Daarom is daar die drie wat getuienis aflê: die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens.
As ons dan die getuienis van mense as betroubaar aanvaar – die getuienis van God dra soveel groter gewig. Hierdie getuienis kom van God af; sy getuienis oor sy eie Seun staan vas. Almal wat glo in die Seun van God, dra die getuienis in hulle eie hart; wie nie glo nie, het God as ‘n leuenaar uitgemaak omdat hulle nie glo in die getuienis wat God oor sy Seun gelewer het nie. En dit is die inhoud van sy getuienis: God het aan ons die ewige lewe gegee, en die lewe bestaan in ‘n hegte verhouding met sy Seun. Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie nie deel het aan die Seun van God nie, het ook nie deel aan die ewige lewe nie.

Een ding wat ek verseker weet, is dat ek nie ‘n getuienis sal hê, indien ek nie gehoorsaam is aan God se stem en Sy opdragte aan my nie! Dit het al so baie keer gebeur dat ek nie wou gehoorsaam nie, kere wanneer dit gevoel het dis onmoontlik, ek moes verkeerd gehoor het!
Wanneer ek dan Sy stem geïgnoreer , het daar niks in my lewe gebeur nie, maar die oomblik wanneer ek gehoorsaam het en hierdie soms, byna onmoontlike opdrag uitgevoer het, dan het daar ‘n ware wonderwerk in my lewe gebeur.

Wanneer jy gehoorsaam, stel jy jouself oop vir ‘n wonderwerk!

Keer op keer kan ek daaroor getuig. As ek nou hier moet vertel daaroor, sal dit nie meer net ‘n twee of drie bladsy geskrewe stuk wees nie, maar ‘n dik boek vol!

Kom ons skryf ons stories, ons eie lewensverhaal, sodat dit uit niks anders as wonderwerke sal bestaan nie!

Kom ons daag mekaar uit om weer ten volle oor te gee aan God en gehoorsaam te word aan Sy stem.

Verwag wonderwerke!

Getuig daagliks daaroor….

Amen

Scroll to top