HOOR SY STEM

HOOR SY STEM

Skree jou vrese, jou denke, harder as die fluistering waarna ek soek?

Soos baie ander gelowiges, smag ons daarna om die stem van die Here te hoor. Ons wil nie raai watter pad ons moet loop of wat die regte ding is om te doen of nie te doen nie. Ons wil alles in lyn met God se wil doen.
Maar die waarheid is, ons weet nie regtig hoe Sy stem klink nie. Ons bevraagteken enige teken, of gedagte of dit regtig God is en of dit maar net my eie verbeelding is.

Baie kere lees ek die Woord en oordink dit en dan smeek ek vir God om my te wys wat Hy wil hê ek moet doen. Maar al wat ek hoor is stilte. En in daardie stilte het ek ongeduldig en ontmoedig geword en begin twyfel.
Miskien was ek nie geestelik genoeg nie, miskien mis ek ‘n geheime formule hoe om God se stem te hoor.
Maar dit is nie hoe die Heilige Gees werk nie. Hy jaag ons nie aan nie, hy oorweldig ons nie met inligting nie. Hy praat juis met ons in my stilte. In ons stilte, alleen saam met Hom, sonder enige voorgee , slegs in totale oorgawe. Dit is wanneer ek Hom saggies hoor en Hy met vrede binne in my siel praat.
Sy teenwoordigheid ervaar ek in die dae wanneer ek nie sterk voel nie, in die stilte tussen my gebede. Hoe meer ek oorgee aan Hom, hoe meer ervaar ek Hom. Nie altyd in woorde nie, maar in ‘n stille wete, in my wag, in my beweeg in my vertroue in Hom.

Dit gaan nie daaroor om ‘n spesiale tegniek te bemeester nie. Dit gaan alles oor verhouding.
Dit gaan daaroor om naby aan Hom te bly. En hoe nader ek aan Hom bly, hoe bekender raak Sy stem. Hy het my nooit geforseer nie. Hy was nooit manupilerend nie. Dit was slegs die stem van ‘n vriend, ‘n raadgewer, ‘n vertrooster.
En so het ek geleer om Hom te volg. Nie perfek nie, maar met groeiende vertroue, want wanneer die Heilige Gees lei, dan lei Hy met liefde, geduld en genade.
Dit gaan nie daaroor dat Hy my na ‘n bestemming lei nie, maar dit gaan oor verandering. Hy wys my nie net waar om te gaan nie, maar Hy leer my wie ek gaan word wanneer ek leer om Hom te vertrou. Elke oomblik dat ek na Hom geluister het, het my gevorm, my sag gemaak en my trots gebreek.
Ek het geleer dat hoe meer ek luister, hoe meer neem Hy my na ‘n dieper plek van oorgawe.
Hy sal baie keer met my praat deur Sy Woord, of deur net een vers wat my oog gevang het. Ander kere sal Hy praat deur Sy vrede wat op daardie stadium glad nie sin maak nie, behalwe die wete dat dit Hy is. Ander kere sal Hy mense gebruik om deur hulle met my te praat tydens ‘n doodgewone gesprek. Of Hy sal praat deur ‘n sekere lied wat tydens kerkdiens gesing word.
Later het ek begin om op te hou om te wonder hoe ek Hom gaan hoor, en het net begin om te luister. Dit gaan nie daaroor om ‘n misterieuse stem te hoor nie, maar om die ore van my hart oop te maak en Sy teenwoordigheid te ervaar. Dit gaan oor die vertroue dat Hy praat, selfs al kan jy dit nie omsit in woorde nie.
En dit het alles verander. Hy het my geleer om te wag. Hy het my geleer om vry te word van altyd in beheer te wil wees. Hy het my geleer dat Sy stilte nie beteken dat Hy nie antwoord nie, maar dat ek moet rus in die wete dat Hy God is. In daardie stil tye, het ek meer gegroei as wat ek sou, indien Hy elke gebed dadelik beantwoord het.

So wanneer ek mense hoor sê dat hulle nie vir God hoor nie. Dan verstaan ek. Ek was ook daar.
Ek weet ook dat die Heilige Gees nie haastig is nie. Hy wag geduldig vir ons. Hy is beskikbaar vir enige persoon wat honger is vir Hom. Om Sy stem te hoor is nie net vir ‘n paar uitgesoektes in die wêreld bedoel of dat jy ‘n sekere geleerdheid moet hê nie. Dit is vir elkeen van ons bedoel.
Hy sal Homself wys aan elkeen wat hom soek.
As jy dalk nou op ‘n plek is waar jy wag, volhard. Hou aan om eerlik met Hom te wees. Jy mag dalk nie Sy stem hoor soos wat jy verwag het nie, maar jy sal Hom hoor. En wanneer jy Hom hoor, dan sal Sy stem lewe. Dit sal jou duidelikheid en liefde bring wat geen mens aan jou kan gee nie.
Soos ek gegroei het in my lewe saam met Hom het agterkom dat ek nie altyd antwoorde kry nie, maar dat ek groei en leer om Hom te vertrou. Dit is die tye dat ek geleer het om net saam met Hom te loop. Nie voor Hom nie, nie weg van Hom af nie, net saam met Hom.
Om die Stem van die Heilige Gees te volg, beteken nie dat ons nooit foute maak of onseker voel nie, maar dit beteken wel dat ons nooit alleen is nie.

Wanneer jy Hom volg, is dit nie slegs gehoorsaamheid nie, maar hierdeur word jy verander. En die mooiste van alles is dat dit nie hier stop nie. Noudat jy Hom volg, sal daar altyd meer wees. Meer om te vertrou, meer om te hoor, meer om oor te gee. Julle verhouding verdiep. Nie omdat ons meer perfek raak nie, maar omdat ons besef dat ons Hom meer nodig het.
En Hy verheug Homself daarin om ons op daardie plek van totale afhanklikheid, te ontmoet.
Ek het altyd gedink om die Heilige Gees te hoor, is iets wat gebeur wanneer jy genoeg geloof het. Maar nou weet ek, dit is ‘n daaglikse uitnodiging, ‘n sagte uitnodiging dat ek saam met Hom moet loop. Asof Hy wil sê; “Kom luister”
Jy hoef nie te werk vir dit wat jy alreeds het nie. As jy Christus ontvang het, dan leef die Heilige Gees alreeds binne in jou. Dit beteken dat Sy stem nie iets ver is nie, maar dit is binne in jou. Dis nader as jou asem aan jou! Jy hoef dit nie na te jaag nie, jy kan nie oorgee.

So laat toe dat jou lewe ‘n luister gebed word.
Jy kan Hom ook hoor. Hy is nie gereserveer die spesiaal uitgekiestes nie. Jy het nie ‘n platform, of preekstoel of die perfekte gebede nodig nie. Jy het slegs ‘n oop hart nodig, ‘n hart wat sê; “Heilige Gees, ek luister.”
Dit is okay as jy onseker is en nog leer, ons almal is. Dit gaan nie daaroor of ons al gearriveer het nie, dit gaan daaroor dat ons net in Hom bly.
So neem daardie tree, vra Hom om met jou te praat. Nie omdat jy dit verdien nie, maar omdat Hy goed is.
En wanneer dit stil is, bly nog naby Hom, hou aan om Hom te soek, want wanneer jy Hom soek sal jy Hom vind en wanneer jy Sy stem hoor, volg Hom en jy sal in elke tree loop wat Hy vir jou voorberei het.
Ons verwag soms duidelike antwoorde en riglyne, maar na ‘n tyd leer die Heilige Gees ons dat die ware doelwit, ware nabyheid aan Hom is.

Die Heilige Gees wag nie vir perfekte gelowiges nie. Al wat Hy vra is volle oorgawe.
Jy kan nou fluister: “ Heilige Gees, ek wil U ken. Ek wil U stem volg. Leer my, ek luister.”

Dit is waar dit begin. Weer en weer. En van daardie plek, sal Hy jou dieper neem. Van luister, na weet. Van weet na vertrou. Van vertrou na loop hand aan hand saam met die Een wat nog net liefde oor jou uitgespreek het.

So moenie streef om Sy stem te hoor nie, bly by Hom.
Moenie godsdiens najaag nie, volg Hom.
Moenie Hom net hoor nie, maar loop saam met die Hom.
Loop in liefde elke tree.

Laat gaan die druk om dit reg te doen. Laat staan die vrees om Hom te mis. Die gedagtes dat Sy stem ver is en bedoel is vir die wat heiliger is as jy.
Want die waarheid is, is dat Hy al die tyd by jou is. Hy kyk nie net vir jou nie, Hy fluister sy liefde in jou oor.

Die vraag is nou nie meer of ek Hom kan hoor nie, die beter vraag is of ek gewillig is om stadiger te leef, sodat ek kan luister.

Johannes 10:27: My skape luister na my stem: Ek ken hulle en hulle volg My.

Scroll to top