GEHOORSAAMHEID
Gen. 22: 16,17: “Omdat jy (Abraham) my gehoorsaam het en nie eens jou geliefde seun (Isak) van My weerhou het nie neem Ek ‘n eed dat Ek jou oorvloedig sal seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ‘n ontelbare menigte, soos die sterre aan die hemel en die sand aan die see en hulle sal hulle vyande oorwin. In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.
Dit sal alles gebeur omdat jy My gehoorsaam het.”
In hoofstuk een uit die boek Rut, lees ons dat Rut ‘n onherroeplike keuse gemaak het vir God en sy volk, selfs al sou dit vir haar die verlies van haar eie mense en hulle gode beteken. Sy het meer vertrou op God en sy voorsiening as op die voorsiening van haar eie land en gode en was bereid om alles op die spel te plaas.
Sy hou dus vas aan die God wat Hom laat vind. Sy lê haar identiteit as Moabiet en afgodsdienaar af, en neem die identiteit van die God van Israel en van sy volk aan. En die Here eer dit en maak haar die grootmoeder nie net van die grootste tempel-digter, Dawid nie, maar uiteindelik ook van die Seun van God wat vir Maria gebore sou word.
Dat Rut hier kies om God te dien, wys dat die Abrahamitiese belofte waar is. God het belowe in Genesis 22 dat in Abraham alle volke van die aarde geseën sal word. Sy as ‘n vreemdeling uit ‘n gehate volk wat kies om haar met hulle te assosieer en hulle God te dien, word nie net aanvaar nie, maar uiteindelik ingesluit in die Messiaanse bloedlyn.
Lees Rut 1:22 en Rut 2:1-3
Die tweede stap wat Rut neem, is nie net om die Here as haar God te kies nie, maar om te kies om die reëls van die Godsvolk na te kom en te gehoorsaam.
Ons lees hier dat Rut nie net die Woord van God geken het nie, maar gehoorsaam geraak het daaraan deur haar vertroue te plaas op die wet se voorskrif vir armoede.
Dit is hierdie gehoorsaamheid aan God se voorskrifte wat God se voorsiening in plek laat kom. Sy maak staat op die Here se voorskrif in Deuternomium 24:19-22 wat raad vir armoede ingeskryf het in die riglyne wat God vir sy volk gee:
“Wanneer jy jou oes inbring en jy vergeet ‘n gerf op die land, moenie omdraai en dit gaan haal nie. Laat dit daar vir die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy doen. Wanneer jy olywe afslaan van jou olybome, moenie dit vir ‘n tweede keer doen nie. Laat daar olywe oorbly vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees. Dit is ook van toepassing op die druiwe in die wingerd. Moenie weer gaan druiwe afoes nadat hulle die eerste keer gepluk is nie. Laat daar van die druiwe vir die vreemdelinge weeskinders en weduwees oorbly. Hou in gedagte dat julle slawe in Egipte was. Dit is waarom ek jou hierdie gebod gee.”
Rut kon staatmaak op gehoorsaamheid van die boere in haar land. Maar, belangrik, sy moes van haar kant af ook werk. Die are gaan optel, maal en brood bak.
Wonderlike manier van voorsiening van God se kant af!
Spreuke 12:28: “ Gehoorsaamheid aan God lei tot die lewe, dit is ‘n pad wat nie na die dood lei nie.”
Dit is nie altyd vir ons maklik om gehoorsaam te wees nie. Ons hou te veel daarvan om ons eie sin te kry en ons eie koppe te volg.
Wanneer ek na al die baie Bybelkarakters kyk wat gehoorsaam was aan God, dan staan een karakter soos ‘n paal bo water uit! En dit is Jesus. Hy was gewillig om die hemel te verlaat en na die aarde te kom as ‘n gewone mens, om hier aan ‘n kruis te sterf, omdat Sy Vader dit van Hom gevra het.
Filipense 2:7-8: “En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”
En dan dink ek aan Ester wat haar lewe in gevaar gestel het en bereid was om God te gehoorsaam.
Toe Haman beplan het om die Jode te vernietig, het Mordegai (Ester se oom) vir Ester gevra om na koning Ahasveros te gaan en vir haar volk te pleit. Dit was gevaarlik, want enigiemand wat ongenooi na die koning gegaan het, kon doodgemaak word. Ten spyte van die gevaar, het Ester gehoorsaam en besluit om na die koning te gaan. Haar beroemde woorde, “As ek omkom, dan kom ek om” – Ester 4:16, weerspieël haar totatle oorgawe en geloof. Maar hoor net hier:
Voordat sy die koning genader het, het sy gevra dat al die Jode saam met haar drie dae lank vas en bid, wat wys dat haar gehoorsaamheid op God se krag staatgemaak het.
Sy het nie net blindelings opgetree nie, maar met wysheid en beplanning opgetree deur vir die koning en Haman na ‘n maaltyd te nooi, wat uiteindelik tot die redding van haar volk gelei het.
Ester word gesien as ‘n voorbeeld van ‘n vrou wat haar agtergrond as weeskind oorkom het om God se doel te dien, aangesien sy besef het sy is “Vir ‘n tyd soos hierdie” as koningin aangestel.
Soortgelyk soos die prosituut Ragab, word sy teen haar wil gedwing in omstandighede waar sy nie wil wees nie en alhoewel haar lewensverhaal “anders is” is haar storie presies dieselfde as Ragab sin. Hulle word altwee as instrumente in God se hand gebruik om Sy volk te red.
Ragab kies om die verspieders van Josua weg te steek en hulle lewens te spaar. Nadat die Israeliete die stad Jerigo ingeneem het, en hulle weer Ragab se lewe gespaar het, het sy gekies om deel te word van die Israelietiese geloofsgemeenskap. Haar beroep en leuens word nie teen haar gehou nie, want sy het met haar keuse om haar by Israel en God te skaar, haar geloof en gehoorsaamheid getoon.
Meer nog, sy word in Jesus se geslasregister genoem, deurdat sy met Salmon getrou het en ‘n seun Boas gehad het by hom. Boas het natuurlik met Rut getrou. Hulle seun Obed was die oupa van koning Dawid, die seun van Isai. Sy het dus volledig deel geword van ‘n stabiele familielewe en haar ou lewe verlaat.
En dan is daar natuurlik Maria. Sy het God se moeilike opdrag aanvaar sonder om te twyfel , ten spyte van die moontlike sosiale gevolge.
Haar gehoorsaamheid was gebaseer op ‘n diep liefde en vertroue in God.
Sy het God se grootheid besing en haar geringheid erken as ‘n dienskneg van die Here.
Maria dien as ‘n voorbeeld vir ons as gelowiges oor hoe om God te gehoorsaam en Sy wil bo eie planne te stel.
Haar reaksie is ‘n kragtige voorbeeld van nederigheid en toewyding aan God se plan.
Hierdie is slegs ‘n paar Bybelverhale as vooreeld van gehoorsaamheid. Dink net wat sou gebeur as hierdie karakters nie gehoorsaam was nie! Hulle gehoorsaamheid het gelei tot ‘n nasie wat geseën word, ‘n volk wat gered is en ‘n nageslag waaruit Jesus, ons Redder gebore is!
Ek sidder as ek dink aan al die kere dat ek ongehoorsaam was en my eie kop gevolg het. Hoeveel geleenthede en seën van God het ek nie al misgeloop nie?
1 Johanes 2:3-6: En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken: as ons sy opdragte gehoorsaam. As iemand sê: “Ek leef in ‘n persoonlike verhouding met God”, maar nie sy opdragte gehoorsaam nie, voer so ‘n persoon ‘n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie. Wie egter sy woord gehoorsaam, in so ‘n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan hom verbind is Die wat beweer dat hulle in ‘n noue verbintenis met Hom leef moet self ook leef soos Hy geleef het.”
Daarom neem ek vandag ‘n besluit om nog nader aan die Here te leef, sodat ek Sy stem helder sal hoor.
Ek neem ‘n besluit om elke besluit in my lewe eers met die Here te bespreek en te wag op Sy antwoord.
Ek neem ‘n besluit om in nederigheid Sy wil te gehoorsaam.
Sal jy dit saam met my doen?
GEBED:
Leer my Here om gehoorsaam te wees, selfs wanneer dit moeilik is en
selfs wanneer ek nie alles verstaan nie. Help my om U stem te herken tussen al die ander stemme, en gee my die moed om “ja” te sê wanneer U roep.
Breek alle trots en eie wil in my en vorm my hart om sag en gewillig te wees.
Mag ek nie net U Woord hoor nie, maar dit ook uitleef.
Ek kies vandag om U wil bo my eie te stel. Amen.
