DIE GELUID VAN STILTE

DIE GELUID VAN STILTE

Hoe klink die geluid van stilte?

Daardie oomblik wanneer ‘n saadjie,
in jou hart val.
Wanneer jou drome in die nag
jou wakker maak.

Daardie oomblik wanneer jy
na ‘n slapende baba kyk.
Die oomblik wanneer jy na
‘n oop graf staar.

Hoe klink die klank van
Die Heilige se stem?
Of die geluid wanneer ‘n engel
jou wegraap van gevaar?

Hoe klink dit wanneer ‘n ster verskiet,
of die son oor die bergrant verskyn?
Wanneer ‘n blom in die oggendson oopgaan,
wanneer wolke oopmaak en reën?

Hoe klink dit wanneer jou hart pyn
en trane uit jou seergemaakte oë loop.
Hoe klink dit wanneer vreugde
deur jou are bruis en
vrede binne in jou hart kom lê?

Hoe klink dit wanneer die
wete van God se liefde
soos ‘n boom, sterker en sterker
in jou binnekamers groei?
Wanneer dit geil,
vrugbaar deur jou kamers
se plafonne bars.
Wanneer die wêreld daar buite
hierdie boom kan sien
en verniet van die
vrugte, vol en ryp
kan pluk?

Hoe klink vreugde, vrede,
hoop, geloof en liefde?

Dit klink soos stilte.
Dit is die geluid van
God se stilte.

Scroll to top