MY BESTE SELF
Hoe word ‘n mens die beste van die mens wat jy is?
Jou beste self…..
Verseker kan ons, sover moontlik iets aan ons voorkoms doen. Ons kan ons liggame oefen en gesonde eetgewoontes aanleer. Ons kan ons velle goed versorg en probeer om die plooie nie ‘n vatkans te gee nie!!
Ek wil amper sê dat dit ons eie skuld is as ons nie so goed aan die buitekant lyk nie! (grappie)
• Hoe maak ons egter met ons binnekant?
• Hoe hou ons onsself positief, vol selfvertroue en sonder enige spyt oor die verlede?
• Hoe bly ons vorentoe kyk met ‘n glinster in die oog en opwinding oor dit wat voorlê?
• Hoe hanteer ons teleurstelling?
• Hoe hanteer ons ongeskikte persone?
• Hoe verwerk ons ‘n nederlaag?
• Hoe hanteer ons onregverdigheid en hoe raak ons kwaad?
• Hoe verhoed ons dat ons harte verhard?
Eseg. 36:26: Ek gee julle ‘n nuwe hart met die regte begeertes en ‘n nuwe gees. Ek vat die ou hart van klip weg en gee julle ‘n nuwe, gehoorsame hart.
• Hoe bly ons die lig wat ‘n donker wêreld moet verlig?
Ef. 5:8&9: Julle lewe was vroeër nag! Nou egter, deur julle verbondenheid met die Here, is julle inderdaad die ene lig. Leef dan soos mense van die lig. Uit die lig kom mos alles wat goed en reg en waar is.
• Hoe bly mens wag op God se antwoord?
Jes. 40:31: Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag.
• Hoe beur ons vorentoe in geloof?
2 Kor. 5: 6&7: Ons is dus vol moed, want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie.
• Hoe kan ‘n mens jou vyand liefhê?
1 Petrus 1:22: Julle moet sorg dat julle mekaar van harte liefhet, al vra dit INSPANNING.
• Hoe ervaar ons blydskap in tye van nood?
Fil 4:4: Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”
• Hoe hou ek my gedagtes skoon en rein?
Kol 3:2: Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge op die aarde nie.
Fil 4:8: Bedink alles wat lofwaardig, suiwer en edel is.
Matt. 6:33: Soek allereers die Koninkryk van God.
Rom. 12:2: Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Jes. 26:3: God gee vrede aan diegene wie se gedagtes op Hom gerig is.
Ps. 119:105: U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig op my pad.
Al ons antwoorde is in Sy Woord.
Iemand vra my nou die dag; ‘hoe hoor jy die stem van die Here?’
Die antwoord was maklik. Ek vra haar; ‘het jy ‘n Bybel?’, waarop sy ‘ja’ antwoord.
Ek kon aan haar verduidelik dat wanneer jy ‘n Bybel het, dan het jy ook die stem van die Here. Hierdie “wonder” Boek – die Bybel, Sy Woord, is nie net ons handleiding nie, maar dis ook die stem van die Here. Wanneer ek my Bybel oopslaan en ek vra vir Heilige Gees om Sy Woord aan my te openbaar, dan hoor ek letterlik Sy stem in elke woord op elke bladsy!
Dit op sig self, is ‘n wonderwerk!
Ek wil amper sê dat ek in een enkele Bybelvers, my antwoord op al bogenoemde vrae gekry het:
Fil 3:13,14: Ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.
Onhou gerus die volgende:
Niemand kan jou ingesteldheid by jou steel nie. So ook nie jou karakter, jou integriteit, jou eerlikheid, jou dissipline of jou vermoë om almal lief te hê nie.
Die enigste een wat dit by jou kan steel, is jyself. Wanneer jy jou gedagtes toelaat om nie op hemelse dinge te fokus nie, wanneer jy jou fokus na die wêreld verskuif, dis wanneer jy toelaat om nie meer die beste mens van jouself te wees nie.
Dan word die antwoord op die vraag; ‘hoe word ek die beste mens wat ek is?’, eenvoudig:
Romeine 12:2: Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Laat Hom toe om jou te verander. Wees oop vir verandering. Vra Hom om jou gewillig te maak om te wil verander. Rig jou gedagtes op Hom. Oefen dit. Oor en oor. Todat jy dit later outomaties doen. Totdat dit AL is waaroor jy dink. Totdat jy veranderd is – ‘n nuwe mens.
Die beste mens wat jy is.
Ps. 143: 11: Here laat my lewe ter wille van u Naam.
